‘n Veilige hawe vir drome van ontvlugting

Die Fish Rite Hanover Park Krieketklub is ‘n toevlugsoord vir jongmense wie se daaglikse bestaan in een van die mees gewelddadige gebiede in Kaapstad ‘n alewige stryd om oorlewing is.

Dis nie ‘n oordrywing om te sê dat ‘n jong krieketspeler wat in Hanover Park op die Kaapse Vlakte grootword meer waarskynlik is om vir ‘n koeël te moet koes as vir ‘n gevaarlik opslagbal op die veld nie.   

Die broosheid van ‘n lewe in hierdie gemeenskap beteken om bloot net ‘n lid van ‘n krieketklub te wees is ‘n manier van selfbehoud – ‘n kans om uit die visier van ‘n bendelid se wapen te bly. Vir jongmense is dit ‘n manier van oorlewing, ‘n buffer tussen hulle en die wreedheid van die strate om hulle.

Inwoners van Hanover Park verset hulle teen die stigma van misdaad en bendegeweld wat aan hulle toegedig word, selfs terwyl koerante en nuuswebblaaie van bloedige verhale wemel. Sulke tragiese tonele speel hulle elke dag af, of soms een of twee keer per week, maar dat hulle afspeel is nie te betwyfel nie – dis net die intensiteit wat wissel. Hanover Park is ‘n gevaarlike draaikolk van bendes, werkloosheid, dwelmmisbruik en nou ook Covid-19 wat alewig dreig om Hanover Park te verswelg.    

Die afgelope paar maande was dit relatief stil. Die grendeltydperk en aandklokreëls het dalk die pas van bende-aktiwiteite ietwat laat afneem, maar dit het beslis nie die skietery en moorde tot ‘n einde gebring nie. Sulke geweld is steeds die norm, selfs in ‘n wêreld waar die pandemie die betekenis van normaal verbrysel het. Gevegte oor afsetgebiede vir hulle bedrywighede tussen bendes wat slegs meters uitmekaar uit bly kom en gaan met die seisoene, met die geloofskalender of die begeerte na dwelms, vuurwapens en wraak.   

Igsaan Hugo het in Hanover Park grootgeword en hoewel hy en sy gesin nie meer daar woon nie, is hy diepgewortel in die gemeenskap deur middel van die Fish Rite Hanover Park Krieketklub, waar hy die hoofafrigter en ‘n vaderfiguur vir dosyne jongmense is. 

“Om ‘n hoofafrigter te wees, beteken jy werk met baie kwessies, soos voeding. Kos is ‘n groot kwessie vir hierdie jongetjies. In baie huishoudings in Hanover Park werk die ouers nie. Covid het dit net vererger. Voeding is een kwessie en bendegeweld is ‘n ander. Ek kry oproepe van my jongmense wanneer die skote reg buite hulle huise klap. Hulle sê vir my hulle is bang. Hulle vertrou my met hulle vrees en ek probeer om vir hulle leiding te gee, wat moeilik is. Dit raak soms baie emosioneel,” sê Hugo.  

“Ek het self kinders. Hulle lei ‘n baie gemaklike lewe, maar ek weet in my agterkop dat my ander jongmense, my ander kinders, nie daardie leefstyl kan geniet nie. Hulle lewe in vrees, nie net vir bendegeweld nie maar ook vir huishoudelike geweld.”

‘n Geskiedenis van rusteloosheid

Hanover Park het ‘n struggle geskiedenis en is die plek vanwaar massaboikots en opstande vanaf Februarie 1980 landwyd versprei het na skole wat bygewoon is deur wat die apartheidsregering kleurlinge en Indiërs gedoop het. Skoliere in Hanover Park het hulle teen die swak toestande van hulle skole uitgespreek en die protes het gou na universiteite uitgebrei, met die gevolg dat derduisende jeugdiges hulle teen die onderdrukking van die regime begin verset het. “HP”, soos dit alombekend is, was al lankal rusteloos. 

Die Hanover Park-krieketveld, geleë langs ‘n sokkerveld met kunsmatige gras en ingedruk tussen Downbergweg en Jan Smutsrylaan, is moontlik een van die mins betwiste plekke in die gebied. Hoewel dit meer sand en dorings as gras het, is dit ‘n toevlugsoord vir rustelose jongmense wat van hul daaglikse stryd om oorlewing wil wegkom.

Die Fish Rite Hanover Park Krieketklub is in 1991 gestig met die uitsluitlike doel om ‘n veilige ruimte vir seuns en dogters te bied om krieket te kan geniet. Die voormalige eersteklaskrieketspeler Faiek Davids het die lig geskyn op ‘n beter pad vorentoe wat met krieket moontlik kan wees, maar jongmense se lewenspaaie is steeds met struikelblokke besaai.

“Hierdie klub het iets spesiaals,” sê Hugo. “Hier’s ‘n klomp baie talentvolle krieketspelers, rowwe diamante wat ‘n bietjie gepoleer moet word en ‘n regverdige kans moet kry om hulle talente te wys. Ons talentvolle jeugdiges hier het blootstelling nodig, maar die skole van uitnemendheid kry die eerste keuse want ons word as vrot appels beskou. Sommige volwassenes van die ryk woonbuurte sal nie die uitdagings kan hanteer wat hierdie kinders moet hanteer nie.” 

Carlyle Roberts (19) het sy beste vriend op ‘n jong ouderdom verloor, nóg ‘n statistiek onder die honderde kinders wat in Hanover Park se rustelose strate vermink en vermoor word. Sedert sy vriend se dood het Roberts ter wille van veiligheid naby die krieketveld gebly, ook omdat hy graag professionele krieket wil speel. 

“Dis moeilik hier vir ‘n seun,” sê Roberts. “Jy kan nie loop waar jy wil nie, want daar’s baie jaloerse seuns hier. Jy mag nie beter as hulle wees nie, en jy kan nie net by jou skoolmaats gaan kuier wanneer jy wil nie.

“Dis hoekom ek verkies om hier by die krieketklub te wees. Dis my passie hierdie. Ek wil ‘n professionele krieketspeler word. Ek speel al vandat ek 11 was vir Westelike Provinsie en ek’s mal daaroor om die kolfbeurt te open. Quinton de Kock is my held en ek wil soos hy wees.”

Robert sê hy’s met krieket in hom gebore. Sy verhaal is ‘n bekende een van ‘n passie vir sport wat al diep spore in Hanover Park gelaat het.

Inspirerende helde

Die bekendste sportheld in Hanover Park se boesem is niemand anders nie as die Suid-Afrikaanse sokkerlegende Benni McCarthy. Sy verhaal van armoed na rykdom is welbekend, maar dis steeds raar in ‘n buurt wat al meer drome in die donker laat verdwyn as in die lig laat skyn het vir almal om te sien. Die veelsydige sanger Vicki Sampson sê die oorsprong van haar politieke en gemeenskapsaktivisme lê in haar grootwordjare in Hanover Park. Haashim Domingo van Mamelodi Sundowns is besig om ‘n naam vir homself op die sokkerveld te maak en het relatief ongedeerd uit HP na vore getree, alhoewel hy die gruwel moes beleef van mense in sy portuurgroep wat voor sy oë vermoor is. 

Dis nie altyd ‘n neerdrukkende prentjie nie, soos ‘n ander getroue HP-genoot, die musikant Jonathan Rubain, kan getuig. Hy het vir homself ‘n suksesvolle musiekloopbaan in Suid-Afrika uitgekerf en is ‘n groot bron van trots vir sy gemeenskap. Sy musiek deel die hoopvolle kant van mense hier – diepgelowige mense wat hul daaglikse stryd met hulle koppe omhoog oorwin. Rubain is ‘n beskermheer van die kieketklub en help om besoeke deur voormalige Proteas soos Vernon Philander en die span se destydse assistentafrigter, Vincent Barnes, te fasiliteer. 

‘n Kort afstand van die veld af speel ‘n handvol kinders sokker op ‘n ou netbalbaan tussen Ryburgweg en Lonedownweg. Daar’s nie meer doelringe op die pale nie. Die speelgrond langsaan is leeg, vermoedelik omdat die klank van ‘n heen-en-weer-skietery oor hierdie oop stuk grond heen nie ongewoon is om te hoor nie.

‘n Patrollievoertuig van die polisie se teenbende-eenheid kruip stadig daarnaby verby terwyl sy drie insittendes elke geparkeerde voertuig en elke beweging van jong mans en seuns met valkoë dophou. Die offisier in die passasiersitplek hou senuagtig sy een hand op sy vuurwapenskede en albei oë op die voetgangers daarbuite. Die kalmte hier kan binne ‘n oogwenk verdwyn, en niemand sien dit ooit kom nie – beslis nie die owerhede en diegene wie se taak dit is om om die gemeenskap te beveilig nie.

Die weermag is in 2019 na die Kaapse Vlakte ontplooi om bendegeweld wat buite beheer geraak het, te bekamp. Volgens die 2018-2019 misdaadstatistieke was daar meer as 1 100 moorde in Suid-Afrika wat met bendegeweld verband gehou het. Hiervan het 938 in die Wes-Kaap plaasgevind. Hanover Park was in dié tydperk onder die vier mees gewelddadige polisiëringsgebiede. Die teenbende-eenheid het hulle hande vol om by al die plekke waar bendegeweld kan opvlam uit te kom.   

“Nie almal in Hanover Park is ‘n bendelid nie. Nie almal hier verkoop dwelms nie,” sê Hugo. “Daar is goeie mense in Hanover Park. Hulle situasie laat hulle net nie toe om weg te kom nie. Ouers wens om hulle kinders uit Hanover Park te kry. Daar’s ‘n stigma dat dit vervuil is van die bendes, maar ons sien so baie ook die goeie in hierdie gemeenskap – mense wat die gemeenskap voer en na die kinders in die gebied omsien. Hulle is nie slegte mense nie, hulle het net nie geld nie.”

‘n Plek van veiligheid

Vir ‘n jong vrou soos Tamia Amos (20) is die lewe veral gevaarlik in HP, nes dit in meeste plekke in Suid-Afrika is. Maar die daaglikse bedreiging van misdaad kan nie haar gees en haar liefde vir krieket demp nie.

“Ek het in graad 11 by die krieketklub aangesluit. Ek wou net deel van iets wees. Dis beter om deel van iets te wees as om die huis te lê en niksdoen nie,” sê Amos. “Ek wil speel tot ek 60 of 70 jaar oud is. Ek wil ‘n werk hê waar ek net vyf dae ‘n week hoef te werk sodat ek Sondae kan krieket speel.”  

Amos vind ‘n veilige hawe binne die grense van die krieketveld en beplan om hierdie geleentheid te gebruik om ‘n beter lewe met meer geleenthede vir haarself te bewerkstellig. “Dis swaar om in Hanover Park te woon. Dis gevaarlik hier. Ons kan nie loop waar ons wil nie as gevolg van die bendegeweld. Ek’s bang om my huis te verlaat. Ek is so paranoies,” sê Amos.

“Ek kan ‘n normale ou sien en dink hy gaan my beroof, of hy het vuurwapen, want ek is al voorheen beroof. Die klub was nog altyd daar vir my, selfs deur die hele Covid-tyd. Daar was tye wat ons niks gehad het nie en hulle het ons altyd gehelp, soos familie. Maar nie net vir my familie nie, vir almal se familie.” 

3 Junie 2021: Igsaan Hugo is die hoofafrigter by die Fish Rite Hanover Park Krieketklub.

Hanover Park oorleef ten spyte van die alomteenwoordige bedreiging van moord en geweld. Dit is sy mense se veerkragtigheid en uithouvermoë, hulle wil om te lewe en sukses te behaal wat dit in staat stel om talent te kweek wat op die nasionale en internasionale verhoog blootstelling behoort te kry – en móét kry. 

“Sport het mense nog altyd verenig,” sê Hugo. “Kyk hier om jou. Dis nie ‘n normale sportgrond nie. Ons het dorings op al die nette. Die toestand van alles is swak. Transformasie moet plaasvind, maar transformasie op só ‘n manier dat dit ‘n impak op die gemeenskap gaan hê. Moenie ‘n skaatsplankpark in Hanover Park bou nie! Niemand gaan ‘n skaatsplankpark gebruik nie.

“Spandeer die geld in die korrekte areas sodat ons ‘n verbetering in die kinders kan sien, hulle van die strate af kan kry en kan besig hou met dinge wat hulle vaardighede ontwikkel. Dís die soort goed wat hierdie gemeenskap nodig het. Saadjies van hoop moet vir hulle geplant word.” 

READ THE ORIGINAL ARTICLE IN ENGLISH:

If you want to republish this article please read our guidelines.